Kersvader

KERSVADER

Ek deel graag met julle die inspirasie agter my nuutste reeks houtskool werke getiteld  - “Two Worlds”.   

 

  



Dit kyk na die kontras waarin ons daagliks leef  - ‘n wêreld vol rykdom in kontras met ‘n ander wêreld vol armoede, eensaamheid en ook meestal dankbaarheid vir so min.
 

So jaar of wat  gelede besluit ek een middag om so bietjie Blouberg toe te ry. Ek misgis my omtrent met die verkeer soontoe en sit omtrent vir ‘n uur lank vas voor ek uiteindelik die oopte van die blou see voor my sien en kan stilhou om my bene te rek en die see te ruik.

Wat nog meer vreemd is as die uur wat dit my geneem het om tot by die see te ry is die feit dat ek dan nou 6.30 op ‘n weeksaand amper moet baklei vir ‘n parkeer plekkie aan die rand van die sand. Ek druk maar geduldig deur, kry ‘n plekkie, klim uit en begin see se kant toe stap. Net soos ek lekker diep asem haal om die see-ruik deel te maak van my hart en siel hop ek omtrent in die lug toe daar ‘n harde knal gevolg deur ‘n paar gruwelike skote net so duskant die eerste sandduintjie knal! Wat op aarde gaan hier aan – weet jy hoe groot skrik jy met die rustigheid wat net die gedruis van die see kan bring as daar so paar knelle hier skuins voor jou klap?

En skielik is daar  lig – vir die eerste keer sien ek nou dat daar baie woeligheid rondom my aan die gang is. Veel meer as op enige ander weeksaand hier langs die see waters. Almal loop met stoele, dik baadjies, piekniek mandjies en o wee, bokse en bokse vol VUURWERKE! Wonderlik, die een dag ‘n jaar wat ek kies om vir ‘n uur van my gesin te onstnap en ‘n bietjie langs die see te kom asem skep is dit nou ook die een dag wat almal anders in groot groepe op strande saamdrom om met

liggies en geraas die hemelruim in te kleur en met groot gejuig nog ‘n herdenking van Guy Fawkes met vurwerke te betuig!

Sommer vies vir myself en almal om my wat dit waag om my rustige aandjie so te bederf stap ek terug kar toe. Daar aangekom besluit ek om maar nog so halfuurtjie vanuit die stilte en warmte van my kar na die sonsondergang te kyk. Terwyl ek so sit val iets anders my op. Tussen almal wat  op en af woel met hul mandjies vol kos en duur bokse vuurwerke is daar ‘n man wat baie stadig, swaar en gebuk van drom tot drom loop en soek na ietsie om die honger te stil. Ek sien hoe almal sirkels om hom loop terwyl hulle swaar dra aan verversings en vermaak vir die aand wat voorle.

Ek sien hoe hy al die leë kitskos boksies oopmaak op soek na iets meer as kaal hoender bene. Ek draai my ruit af en roep die man nader. Toe ek die dankbaarheid in sy oë sien kry ek skaam. Skaam vir die wêreld waarvan ek deel is. ‘n Wêreld waar ons so besig is om bymekaar te maak en swaar te dra aan luukshede en rykdom dat ons nie eens meer raaksien hoe die man met die krom skouers en stukkende hande, veel swaarder dra aan niks.

Dis inderdaad weer Kersfees in die winkels en in die wêreld! Kersvader – bring tog vir my ‘n hart vol liefde en deernis vir my kerskous hierdie jaar!