As die skote om ons klap.

Tygerburger - Letters, Wednesday 27 April 2016

Onlangs verhuis ons na Durbanville. Die nuwe huis is in ‘n pragtige ou gevestigde woonbuurt met groot erwe en hoë bome. Binne die eerste paar dae is ons verlief op die tuin met sy magdom voëls en natuurlik eekhorings. Binne ‘n dag of twee gewaar ek duif vere in die hoender kampie in ons agterplaas. Dit is vreemd dink ek, ons het nie katte nie, wel honde maar hulle het geen toegang tot die hoender kampie. So sien ons elke dag al hoe meer voël vere in ons agterplaas.

Een Sondagoggend staan ek, my man en oudste dogter by die heining van die hoender-kampie toe ons ‘n harde klapgeluid hoor. Steeds onseker van wat dit presies kan wees klap die tweede skoot gevolg deur veer konfettie wat vanuit die lug oor ons waai. Toe die derde skoot deur die lug sing sê ek benoud: Iemand skiet!” Ek sê dadelik vir my dogter om uit die hoek van die erf te beweeg waar sy ondersoek instel na die vere. Ek gryp ‘n ou groen plastiek tuinstoel en bekruip die muur tussen ons en die nuwe bure kompleet soos ‘n rekkie. Versigtig loer ek,neus en oë, oor die muur. Sowaar, daar by een van die agter vensters loer die loop van ‘n windbuks vir my. Ek volg met my oë die lyn van die loop tot by die eienaar  - ‘n jong seun omring deur sy makkers wat aanmoedig terwyl daar vir duiwe en ander voëltjies gejag word. Ek is met afgryse gevul. “Bly tog maar stil”, paai my man van die kantlyn. “Ons wil nie onenigheid met die bure hê nie my vrou.”

So ‘n week of wat later is dit skool vakansie toe die skote weer klap. “Mamma, mamma, hulle skiet die voëls dood.” My kroos se noodkrete, naby aan trane.

Hierdie keer is daar niemand om my te paai nie. Ek gryp weer my groen tuinstoel en die keer staan ek vollengte daarop sodat hulle my goed kan sien. Ek gewaar die jagter waar hy suutjies al langs hul muur stap op soek na sy nuutse prooi, geweer in die hand. Sy makkers loer almal deur die venster.

“Wat maak julle hier?” vra ek. “Skiet julle alweer onskuldige voëltjies?” Met ‘n wip en ‘n skrik draai hy grootoog na my: “Nee tannie, ons gooi net klappers!” Geweer in die hand.

As ons toelaat dat die skote so onverstoord om ons klap wonder ek sommer of die toestand van Moeder Aarde nie ‘n eggo is van al die skietwonde deur ‘n samelewing waar dit aanvaarbaar is vir sommige kinders om onskuldige eekhorings en voëls te jag.

 

-Nadea Victor