Skatkis van Onthou

Heen en weer
Heen en weer
Op en af
Op en af
Boel wat in die stofpad blaf

Op my rug in die trekkerwiel-swaai
Skrefies oë. Die son flits en wind sing
deur die Bloekombome se blare
Vertel onthou stories van baie jare

Boel blaf by die kombuisdeur
Gryp sy sny brood, fris en mooi
 wat ouma getrou oor die agterdeur na hom gooi
In die kombuis wag daar ook iets vir my
varsgebakte blikkie-brood wat
mens net hier op Karpad kry

Heen en weer
Heen en weer
Op en af
Op en af  
Boel wat in die stofpad blaf

Na ete gaan oupa hoenders slag
My plaas-nefies kom help dit is 'n groot dag
'n afkop hoender hardloop soos die wind 
Niemand kan hom vang, nie eens hond se kind

Ons is uit die vere nog voor die haan se eerste kraai.
In die kombuis koffie en beskuit en ouma wat lewer op die aga braai
Ons swem in die stroompie en maak sieringsap
Later gaan ons wol in die skuur trap
Ons wag vir oupa om die vissies te kom voer
Groot oog staan ons om die dammetjie vir mekaar en loer
Hier kom oupa minwetend - o wee
ons het hul reeds bietjie van ons eie kossies gegee

Ons pluk turksvye met ons blikkie stok
Oupa hou ons dop alewig met pet op die kop
Op oupa se plaas is ons veilig en vir niks bang
Oupa is mos hier om goggas en slange te vang

Ons bou huisies en speel buite onder die maan
Binne sit familie, geen tv, almal gesels saam
Ons hou makietie op die stoep as Ouma verjaar
My hart en tone wat vir ewig in Karpad se stofpad baljaar
- Nadea Victor