As die Posman Rou

As die posman rou. - Wenbrief, Leef tydskrif, April 2015

Daar is 'n klop aan die deur. My man staan op om te gaan kyk wie dit is. Ons kuier vir die middag by my ma en sit almal met 'n beker boere-troos.

"Waar is daai oubaas? Ek sien nie hom in die tuin nie."

"Daai oubaas, hy is dood!" antwoord my man.

"Haikona! Daai kannie wiesie! Stomgeslaan, sweet wat blink oor sy gesig, draai die posman om, klim op sy rooi fiets en ry weg.

Ek en my ma sit met groot oë na mekaar en loer. Wat is daar om te sê. Ook ons is stomgeslaan.

Dit is nou 'n paar weke sedert my pa twee dae na sy sewentigste verjaarsdag oorlede is aan 'n hartaanval in die kerk. Hoe kan dit waar wees. Twee weke voor Kersfees, vyf dae voor ons almal saam sou vertrek vir ons jaarlikse see vakansie in Vleesbaai. Drie dae voor my ma se groot aftrede waarna ons almal so lank al uitsien. Hoe kan dit waar wees.

Die lewe wat ons voorheen geken het is weg. Vir ewig. Ek voel asof iemand 'n uitveer gevat het en dit oor my lewe getrek het en nou is dit alles weg, daar is geen manier om daarheen terug te keer. Ek het al gehoor hoe mense dit beskryf asof in 'n droom. O nee. Vir my is dit alles ewe skielik net te helder.  Soos om in die vol son te staan in 'n woestyn sonder oease en sonder 'n sonbril. My pa is weg, my vriend is weg, my raadgewer is weg, my eerste liefde is weg, my hero is weg, my kinders se oupa is weg, my veilige plekkie is weg, my lekker lag alles is ok pappa is weg.

Om elke oggend wakker te skrik is die ergste - dit is asof jy elke oggend van voor af met 'n skok besef  - my pa is dood. Ek sleep myself uit die bed, die uitveer het voorwaar 'n spierwit lee bladsy agtergelaat. Elke dag is 'n stryd. Ons moet nou 'n nuwe storie skryf. Hoe skryf jy 'n storie so teesinnig.

Soos ek een middag in die verkeer ry besef ek skielik dat ek na die motoriste om my kyk en by elke kar sit en wonder - het hy of het hy nie...skielik is daar twee groepe mense - diè wat 'n pa het en diè wat nie 'n pa het nie. Die wat het kan nie verstaan nie en soms, diep in my binneste is ek kwaad vir hulle. Dit is my geheim.  Selfs sommige wat nie meer het nie, het vergeet en verstaan ook nie regtig meer nie. Ek wil nooit vergeet nie.  

Terwyl ek so sit en wonder oor die twee groepe waarin ek skielik die hele samelewing wil verdeel besef ek ek is steeds deel van diè wat het. Geen mens, geen ding, geen begrafnis, geen afstand sal ooit maak dat ek nie 'n pa het nie. Ek hèt die beste pa in heel die wye wêreld. Die storie wat ek van nou af vorentoe moet skryf is dalk nie hoe ek dit beplan het nie maar die deel wat ek reeds geskryf het is so vol wonderlike wyshede, liefde en herinneringe! Wat 'n ongelooflike reis met 'n pa soos diè  - selfs die posman rou.

Daar is geen uitveer groot genoeg om die storie van my pa uit te vee. Ek het 'n pa, hy woon nie meer op die aarde maar vir ewig in my hart... en so begin my nuwe storie. - Nadea Victor