Van Spook jagter tot Spook wagter

Van Spook jagter to Spook wagter - 2011

So maand gelede is my kleinsus se skoonpa skielik oorlede. Die begrafnis was in Durban en na ‘n lang dag se ry gaan hulle by haar skoonsus tuis. Pootuit van die langpad val hulle sommer in die eerste en beste bed vir ‘n bietjie welverdiende rus. In die vroeë oggendure word my sussie wakker van ‘n sms op haar foon. In ‘n oogwink is sy wawyd wakker  – ‘n koue rilling gaan teen haar rug af toe sy sien dit is ‘n leë sms van niemand anders nie as skoonpa!  Natuurlik is ‘n goeie nagrus toe vergete en die res van die nag was ‘n gestoei en stamp met “spookpa”.

Dit laat my dadelik dink aan Robbie Wessels se liedjie wat lui “is daar sein in die hemel, as daar is, stuur vir my ‘n boodskap.”

Ek onthou die tyd toe ek in die laerskool was en my oupa Doepie skielik dood is aan ‘n hartaanval. Verseker sal ek nooit die vreeslike hartseer in die begraafplaas vergeet nie. Ek sien nou nog hoe ouma die lykswa laat stil hou en die oom met die swart pak vra of sy dan net nog vir oulaas so entjie saam met oupa kan ry tot by sy laaste rusplek.

My kinderhart was totaal onvoorbereid op die vreeslike realiteit van dit wat by ‘n begraafplaas gebeur. Ek dink my oë wou uit hul kaste klim toe ek besef dit is oupa daar in die kis en hulle is besig om hom in die gat te laat sak! Kan niemand van die grootmense dan keer nie?

 Om nie eers te praat van die tannie met haar kamera nie – meeste families het mos maar so kamera-oom of tannie. Altyd om elke hoek en draai gereed vir “diè oomblik”. Sy kiek vir die vale. Dit is die een foto op die ander en hiervan verstaan ek nog minder, kameras en “smile” gaan mos altyd saam. Hier is absoluut niks om oor te smile nie en nog minder om af te neem. Net rooi oë, wit sneesdoekies en swart kerkskoene vol stof.

 Min het ek daardie dag besef dat hierdie eerste kennismaking met die dood die begin sou wees van maandelange slapelose nagte.

 Skielik was daar soveel moontlike wegkruip plekke vir oupa se spook in my kamer. Ek onthou soos gister die beklemming om my hart as dit slaaptyd raak. My spookjag eskapades het ‘n daaglikste instelling geword. Die ritueel het begin deur seker te maak al die deure van my kas is stewig toe. Die groot teddie op my bed moes elke aand in presies dieselfde posisie wees. Meeste van ons weet tog hoe bang ‘n donker teddie- skaduwee kan maak! Getrou het ek elke aand langs my bed op my kniee gegaan, asem opgehou en dan vinnig die groen nagval opgelig om seker te maak daar skuil niks in die donker onder my bed nie. Vandaar het ek in die bed geklim – dit is waar die harde werk eintlik begin het – dit was lewensbelangrik om seker te maak ek is van my oor tot my toon toe onder die kombers en dan, soos dit elke ware spook jagter betaam, moet jy heelnag seker maak nie ‘n voet, hand, toon of vinger steek uit of hang dalk oor die randjie van die bed nie. Natuurlik wil jy nie slapende spoke wakker maak nie!

Vir maande het dit so aangehou tot die vreeslike bang van oupa in ‘n kis wat daar in die gat wegsak bietjie minder begin raak het.

Nou is ek “groot”, het self drie klein kindertjies en dit is weer begrafnis tyd.  My hart is stukkend want  die keer is dit my liewe ouma Doepie. Wat ‘n voorreg om haar tot op die ouderdom van 88 by ons te kon hê. Wat sou ek nie gee vir net nog so bietjie tyd nie.  

Een van my eerste gedagtes is,  “Ouma, jy weet hoe vreeslik lief ek vir jou is, maar ek, ouma en ‘n kis. Nooit! Ek besluit dan sommer dadelik dat hièrdie, een familie geleentheid is wat my kroos nie gaan meemaak nie!

Op die ou end staan die familie saam en  is ouma se afskeid ongelooflik, mooi, en vol helder geel rose! Dit is ‘n pragtige sonskyn dag, van ‘n kamera is daar nie sprake, en stof op ons skoene is daar nie!

 Anders as jare gelede is ek nie bang vir slaaptyd nie, o nee, want nou is ek nie meer ‘n spook jagter nie maar ‘n volwaardige spook wagter. Skielik kan ek  nie wag om te gaan slaap nie want elke dag is daar so bietjie hoop dat daar dalk tog iewers ‘n konneksie is tussen my wêreld aan die kant en ouma s’n aan die ander kant.

Terwyl ek so na my sussie se sms-  en spookkanades luister besef ek dat ek net so bietjie jaloers is want net dalk is daar tog sein in die hemel. 

 As daar is, ouma, stuur tog vir my ‘n boodskap! - Nadea Victor